05/12/2021
WITVLIEG IN JOU TUIN
Witvlieg is een van daardie peste wat voorkom in tuine waar die lugvloei nie plaasvind nie en kom veral in tonnels en warm tuine voor. Dit is ook een van daardie peste wat nie maklik uitgeroei word nie en kan ‘n hele seisoen voortduur om weekliks navore te tree.
Verlede jaar het ek gebruik gemaak van elke moontlike organiese middel op die mark, soos Neem olie en Pyrol olie en kombuis konkoksies, maar hierdie veerligte klein vliegie kon ek net nie uitroei nie, Selfs blaarvoedings soos Trelmix en Nitrosol en Seagro kon nie ‘n verskil maak nie. Nou dit is sulke tye wat ek dan mos besluit om hierdie oorlog te wen en dan druk ek weer my neus in ‘n werkskrum van denke en boeke totdat ek by die antwoord uitkom.
Hoekom is hierdie klein pes so lief vir jou fuchsias, mintblare, smeerwortel, tamaties, komkommer en al wat ‘n Brassica plant is?
Sy antwoord: “ ons leef so lekker want ons eet so lekker.”
Ja, die witvlieg eet en broei veral op daardie plante wat sag is in weefsel en waarvan die fotosintering suikers in die blare hande klap van oormatigheid. Jy sit nou met ‘n tipiese “diabeet” vir ‘n plant. En daardie fotosintering suikers is die voorgereg en nagereg vir ‘n witvlieg.
Hoekom werk die gif nie? Want die klein pes broei vinniger as wat jy kan uitroei en binne 2 dae nadat jy gespuit het, is die volgende generasie alweer besig om lekker hoof maaltyd te geniet op die agterkant van jou plant se blare.
Watter metodes kan ek dus gebruik om die fotosintering suikers te verwyder, wat hierdie klein pes se driegang maaltyd is?
> Help jou plant om minerale op te neem via mineralisasie deur kompos ekstrak op die grond te gooi en aerobiese kompos tee op die blare te spuit.
> Moenie voeding gee wat te hoog is in nitraat stikstof (N)nie.
> Pasop vir te veel kraalmis in die grond.
> Spuit weekliks blaarvoeding wat hoog is in spoor elemente. Ongelukkig werk hierdie tegniek nie op alle gronde nie en is punt 1 ‘n beter opsie.
As daar nie oormatige fotosintering suikers teenwoordig is op die plant see blare nie, kan die witvlieg nie ‘n maaltyd geniet nie. Tree liewer voorkomend op as te laat. Die witvlieg is geneig om jou onkant te vang.